Vaarwel Antie Zenna

vaarwel antie zenaOp Maandag oggend 6 Mei het die SKEPPIES Span baie hartseer nuus gekry dat Katriena Kristiaans, oftewel Antie Zenna soos sy alombekend was, Saterdagaand die 4de Mei afgesterf het.

Antie Zenna sou Maandag oggend saam met die span van SKEPPIES ‘n vergardering bywoon om die pad vorentoe vir die Extreme Hiking Trail wat sy aan die voorpunt van was te bespreek.

 Antie Zenna het in die laaste jaar baie gesukkel met haar gesondheid veral haar bloedsuiker en asma. Haar uitdagings met haar gesondheid kon Antie Zenna nie stuit in haar pogings om die Extreme Hiking Trail te groei tot ‘n volwaardige besigheid ten voordeel van haar gemeenskap op te bou nie.

Antie Zenna het op Pella grootgeword en by die Rooms Katolieke Kerk skool opleiding ontvang. Sy het in later jare as jongmeisie in Johannesburg gaan werk. Nadat sy terug gekeer het Noord Kaap toe, het sy betrokke geword by Extreme Hiking Trail en ook die Namakwa 4x4 roete. Oor die twee projekte was Antie Zenna baie passievol en het altyd met durf n gees oor haar twee “babas” gepraat. Haar omgee vir Oom Hedrik en Michael, die twee gidse van die Hiking Trail, was groot en so ook haar waardering vir hulle betrokkenheid.

 Haar familie onthou haar as ‘n passievolle en presiese mens, wat tot op haar oudag nog baie wou vermag. Sy het selfs onlangs ABET klasse in Wiskunde en Engels geneem om haarself to bemagtig, omdat sy geglo het mens moet nooit ophou leer nie.

 ‘n Paar kollegas en van die SKEPPIES projekleiers by Conservation Suid Afrika (CSA) was gevra om hul herinneringe van Antie Zenna te deel. Nicolaas Sigam wat baie nou en vir lank met Antie Zenna gewerk het, het die volgende boodskap gestuur. “Die hengaan van Antie Zenna is vir my besonders moeilik om te verwerk, juis omdat ek haar as “onbreekbaar” beskou het in die uitsonderlike werkverhouding wat ons gedeel het. Sy was voorwaar ‘n “ystervrou” wat ontlanks verskeie uitdagings haar uiterste beste gedoen het in alle fasette van haar lewe.”

Elmariza Smith van CSA sê, ”Sy was ‘n inspirasie vir ons almal. Ek ken haar as ‘n vegter. Sy het nooit moed opgegee vir haar drome nie.”

Antie Zenna laat drie kinders en een kleinkind agter asook ‘n groot uitgebreide familie. Die SKEP vennote wens die familie alle sterkte toe vir die toekoms, en wil hul graag bedank dat hulle vir Antie Zenna kon deel.

Additional information