Piet Crafting Services Groei as Klein Besigheid

piet crafting services groei as klein besigheidEen van die SKEPPIES klein besighede wat geleë is in Kharkams in die Kamiesberg het onlangs bewys dat daar wel sukses behaal kan word, selfs in die huidige tawwe ekonomiese omstandighede waarin ons tans onself bevind.

Pieter van Niekerk wat sy besigheid Piet Crafting Services begin het deur die maak van “USB memory stick” omhulsels vanuit hout, spesifiek hout van die indringer Prosopis boom, het deur vernuf sy produklyn van hout uitgebrei om selfs lepels, bakke, fotorame, sleutels vir 21ste verjaarsdae en krieketkolwe, ondermeer te vervaardig. Hy het ook begin om van afval materiaal soos ou plastiekpype tafeltennis rakette vir die plaaslike leerders en tuinharke te maak, en selfs ook broodpanne en skoppies van afval sinkmateriaal. Die nuwe produkte is baie gewild onder die inwoners van die Kamiesberg area, en Piet kry gereeld bestellings omdat van die produkte broodnodig is vir alledaagse gebruik en nie maklik bekombaar is by plaaslike winkels nie.

Van Niekerk het onlangs met die plaaslike skool kragte gespan om saam te werk. Kharkams Hoërskool wat hierdie jaar sy 21ste bestaansjaar vier is deur hom genader om uit te vind of daar nie maniere is waarop hulle kan saamwerk nie.  Van Niekerk het in kontak getree met die prinsipaal Meneer  Horniman en die skool-beheerligaam wat hom toestemming gegee het vir die gebruik van die houtwerk klaskamer by die skool. Aangesien die skool besig was met beplannings vir hul 21ste verjaarsdag vieringe in Augustus vanjaar, het hy ook onderhandel om verskeie instandhouding en herstelwerke te doen vir die hout-tafels, lessenaars en deure. Hy het ook besprekings gehad met die graad-R onderwysers vir die maak van verskeie opvoedkundige speelgoed wat die skool en ouers ten duurste moet aanskaf van elders. Ook is hy besig om nuwe houtstaffies te maak vir die trompoppies van die skool.  

Horniman noem dat Van Niekerk se betrokkenheid baie goed is en ‘n goeie voorbeeld stel vir die leerders. Hulle is ook baie beïndruk met die kwaliteit van sy werk en is bly dat hulle van die gereedskap tot sy beskikking kan stel vir die vervaardiging van sy produkte. Die feesvieringe sal gedurende die naweek van 9 to 11 Augustus plaasvind, en dit gaan ‘n propvol program wees.  

Die Vrydag sal daar afgeskop word met onder andere ‘n Disco vir die jongspan en aktiweteite vir die jongspan. Die Saterdag sal daar verkeie verkope wees met tradisionele Namakwalandse geregte soos potjiekos, braaivleis en ook ‘n sportdag waar selfs ‘n rugbyspan uit die Kaap sal kom speel. Daar sal ook Donkiekar ritte, trompoppies en ‘n orkes van Leliefontein wees. Op die Sondag sal ‘n dankseggingsdiens in die Metodiste Kerk gehou word om die 21 jaar van die skool se bestaan te herdenk.

As deel van die ooreenkoms met die beheerligaam van die skool, kan  van Niekerk nou die groot sae in die houtwerk klaskamer gebruik om van sy eie produkte te vervaardig wat sy produksie tempo ‘n hupstoot gaan gee. Hy gaan dan ook tydens die feesvieringe in Augustus sy reeks van produkte te koop aanbied aan die feesgangers.  Teen Junie was hy al besig met die herstel van 21 houtwerk tafels, 18 lessenaars, twee onderwysers-tafels, twee sub-A tafels, agt hangkas deure van die koshuis was klaar en 11 moes nog aan gewerk word. Die herstel behels die uitsny van ou vrot plekke en las en skuur en vernis van die artikels.  

Van Niekerk sê vir sy besigheid beteken die geleentheid baie want hy hoef nie uit Kharkams te gaan vir werk en doen terselfdertyd iets vir sy gemeenskap en skool waar hy self sy skoolopleiding ontvang het. Die kennis en liefde vir houwerk wat hy in dieselfde klaskamer gekry het, ploeg hy weer terug in die skool. Hy noem ook dat van die kinders belang stel in die houtwerk en wil weet of hulle geleer kan word om die houtwerk te doen. Dit is iets wat hy nog verder wil neem na samesprekings met die skool-beheerligaam en personeel. 

 Van Niekerk se assistent Patrick Rooi vertel die skool bied nie meer houtwerk as vak aan nie en die kinders vind dit baie interressant. Die leerkragte sien ook wat Piet Crafting Services doen en hulle is tevrede met wat gedoen word want hulle vorder met hul werk. Albei van hulle het hier skool gegaan en vind dit goed om terug te ploeg in hul "eie" skool. Die gereedskap wat vir lank in onbruik was word nou gebruik en die besigheid het dit nodig omrede hulle nie self gereedskap van daardie kaliber kan bekostig nie.

Additional information