Wes-Kaapse Brandvereniging Ryk na Nuwe Horisonne

gcfpa reaching for new horisonsBrandbestuur in die Wes-Kaap is tans in ʼn transformasieproses, en brandbeskermingsverenigings (BBVs) beoog om die hele provinsie te bedien met geïntegreerde brandbestuur (IFM).

In Desember 2013 het die Groter Cederberg Brandbeskermingsvereniging (GCBBV) vlerke gesprei om ‘n gedeelte van die Bokkeveld plato by Nieuwoudtville in te sluit - die derde amalgamasie van ʼn ander BBV met die GCBBV in minder as twee jaar. Die voormalige Weskus BBV is in 2012 onder die GCBBV se bestuur ingeneem, gevolg deur die Paardeberg BBV se amalgamasie in 2013.

“Ons is nie daar vir brandbestryding nie,” sê Charl du Plessis, algemene bestuurder van die GCBBV.  “Ons ondersteun wel ons lede tydens brande, maar die omvang is soveel groter. Ons help grondeienaars om hulself te beskerm teen moontlike skade van veldbrande, en gevolglik ook teen skadevergoedingseise. Ons help hulle om te voldoen aan die wetlike vereistes. En ons help hulle om brand gevare in hul omgewing te bestuur en te voorkom. Voorsorg is beter as nasorg.”

Die Wet maak voorsiening vir hierdie organisasies, en versekeringsmaatskappye moedig lidmaatskap aan ʼn BBV aan. Grondeienaars is onderhewig aan streng wetlike vereistes soos uiteengesit in die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, Wet 101 van 1998, met implikasies vir die bewyslas rondom regsaanspreeklikheid. In die Wet word ʼn vermoede van nalatigheid geskep wanneer grondeienaars binne ʼn geregistreerde BBV se grense val en steeds versuim om lidmaatskap te bekom. Só ʼn grondeienaar moet dan in die hof kan bewys lewer dat hy nie nalatig was nie. BBVs beskik oor die kundigheid en hulpbronne wat grondeienaars in lyn kan bring met die Wet, en om hulle risiko’s te verminder.

Corien Bornman, Bestuurder van Besigheidsontwikkeling by Mutual & Federal (Landbou) sê: “Grondeienaars besef nie die volle waarde wat BBV lidmaatskap vir hulle inhou nie. Diegene wat al in ʼn hofgeding betrokke was is dit eens dat dit iets is om ten alle koste te vermy.  Die blote feit dat die vermoede van nalatigheid wat in die wet geskep word, wegval vir BBV lede, behoort alle grondeienaars aan te spoor om dadelik aan te sluit.”

Nieuwoudtville het in Desember deurgeloop toe daar, slegs twee dae nadat die besluit geneem is om met die GCBBV te amalgameer, ʼn mega-vuur op die plato uitgebreek het. Die skade het meer as R2 miljoen beloop. In ʼn poging om die wegholbrand onder beheer te kry is ʼn ooreenkoms geteken tussen die Wes-Kaapse Provinsiale Rampbestuur (PDMC) en die Noord-Kaap Provinsie, en is Wes-Kaapse Working on Fire lugondersteuning oorgrens gestuur om bystand te lewer. Die Hantam Munisipaliteit en die Namakwa Distrik Munisipaliteit het ook addisionele hulpbronne uit die Wes-Kaap laat kom. “Grondeienaars van die Nieuwoudtville distrik het ons genader om hulp, nadat pogings tot die stigting van ʼn BBV in daardie gebied telkemale onsuksesvol was.” Mnr. Du Plessis verduidelik dat daar voorheen bykans geen hulpbronne tot beskikking was vir dié Noord-Kaapse dorpie nie, en dat boere en grondeienaars aan hul eie noodlot oorgelaat was. Die GCBBV beoog om die distrik só te versterk dat hulle voorkomende maatreëls in plek stel, en voorbereid en toegerus sal wees in tye van nood. Die BBV se hulpbronne sal ook voorts tot hul beskikking wees.

Mnr. Willem van Wyk, ’n rooibostee- en skaapboer in die Nieuwoudtville distrik, sê dit is van uiterste belang dat brandbestuur op ’n georganiseerde, professionele wyse moet geskied. “Om te kan inskakel by die GCBBV is vir ons ʼn groot verligting, en ek glo dat hierdie stap ʼn waardevolle bydrae kan lewer tot die bewaring van ons seldsame biodiversiteit hier op die Bokkeveld plato.”  Die area is die mees noordelike verspreidingsgebied van die Fynbosbioom, en daarom is dit belangrik dat hulle by ʼn BBV inskakel.

Die GCBBV is tans besig om sy grense te verander soos vereis deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, en beslaan ʼn domein van sowat 2,311,637.00ha.

Deur: Hendaretha Kellerman

Additional information