Leerders Spring in om Eseloor Endemiese Plant te Red

Eseloor plant“Jongmense sit wakker!” lei die spreekwoord in Namakwaland. As deel van die Eko-skole program het Ferdinand Brecher Primêr se leerlinge ingespring om die Eseloor (Cheiridopsis peculiaris) populasie van uitwissing te red.

Die kolonie kom voor so 3 km noord in die klipkoppies van Steinkopf en is al sedert 2013 onder die bewaringsoog van die leerders, Departement Omgewingsake en Natuurbewaring (DENC) en die Meentkomitee van Steinkopf.

By monde van botanis, Annelise Le Roux wat by CapeNature werk, is die spesie uniek omdat dit die enigste bekende kolonie in Suid Afrika is waar die plantegroei so dig groei. Die plant is internasionaal ge-oormerk as ‘n kritiese bedreigde spesie in die groter Sukkulent Karoo bioom. Die Sukkulent Karoo bioom het ‘n ryk plantspesie van 4750 spesies waarvan 35% endemies is.

Saam met DENC het die jongspan ‘n sensusopname van die kolonie gedoen om die digtheid en verspreiding van die spesie bepaal. Die opname het gewys dat die kolonie dig is in terme van plantegetalle, maar beperk is volgens grootte. ‘n Sliknet is opgerig oor die erosie beskadigde areas om verdure afloop tydens die reënseisoen te verhoed en om die mineraalryke bogrond te stabiliseer. Die sliknet help ook om sade op te vang en kan lei tot ontkieming en so die nuwe plantegroei op die kaalgestroopde areas teweegbring.

Met die Port Nolloth padinstandhoudingsprojek het die kontrakteur onwettiglik die area betree en klippe gebruik sonder toestemming. Waaroor die bohaai oor n paar klipppies sou mens reken. Die klippe help dat die vee en donkies nie die plante vertrap nie. Dit help dat vetplante hul water langer behou en dus bestand is teen droogtes. Met die weggevat van die klippe is die plante weerloos teen die natuur en diere. As die klippe verwyder word, is die kanse op erosie soveel groter. Die reën kan slote spoel en die weidingsgrond verminder wat tot nadeel is vir die boere.

Die span en botaniste sal sensusopnames twee keer in die jaar doen om die kolonie effektief te monitor. Die munisipaliteit en meentkomittee onderneem om oorbeweiding, vertrapping, prospektering en die onwettige versameling en handel van die plant die hok te slaan.

Met die klein projek is omgewingsbewusheid en verantwoordelikheid ingeprent in môre se grootmentse. Met ingeligte jongmense aan die spit, wag daar net dalkies ‘n  blinker toekoms vir bewaring in die streek.

Uit Die VeePos, Desember 2014

Additional information